STUDENTESTORIES

Daar is niks wat jou gesig so ophelder, en jou oë laat blink as om terug te dink oor jou studentedae en ’n staaltjie of twee oor te dra nie.

Die Universiteit van Stellenbosch in 1937

Solidariteit Beweging se hoofde vertel wat vir hulle uitgestaan het van hulle studentelewe by die onderskeie universiteite waarby hulle betrokke was.

Die Universiteit van Kaapstad in 1955

Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in 1970

Die Universiteit van Stellenbosch in 1971

Kom ons neem jou op ʼn nostalgietoer vir inspirasie …

Fiktiewe storie geskryf deur Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia

Daar is opgewondenheid (dalk ook ʼn tikkie vrees) in die lug, die seniors is terug ná die lang somervakansie en die eerstejaars groet links en regs met ʼn “goeiedag meneer” en ʼn “goeiedag juffrou”. Die huiskomitees (of in die omgangstaal sommer net HK’s) het die eerstejaars mooi geleer “om ʼn Puk te wees, is om ʼn Puk te groet”. Hulle het dalk oordryf hoe kwaai die senior studente is, maar die eerstejaars vat maar nie te veel kanse nie. Dit is soms moeilik om tussen legende en waarheid te onderskei. Al die studente (die seniors en die eerstejaars) is vanaand in die amfi vir die jaarlikse byeenkoms waarin die President van Tarentaal (die P van T) die studente toespreek. Sy hele kabinet is daar en hy stel hulle soos gebruiklik aan die studente voor. Hy kom by die leë stoel en al die senior studente sê saam “Agent J-A-N, Jan”. Dit is nie lank nie dan sal die dameseerstejaars versoek word om die dorelied te sing. ʼn Dorelied waarin daar die draak gesteek word met die vorige jaar se nuusgebeure op kampus, en op nasionale en internasionale front.

Die jakarandas staan in blom en die Aula-grasperk is volgepak (en die klasse dalk te leeg), maar socials is ʼn vak wat ge-cum moet word en al wat gesleep word, is die vlerke van die manne by die dames. Die lewe lê nog voor jou en daar is nog nie beplanning oor wat die aand gekook moet word nie, daarvoor is die Piazza – die tuiskoms vir ʼn honger student, want om te swot is harde werk. Die ouers moet natuurlik gelukkig en gerus gehou word. Daarom kan studente sonder blik of bloos hulle ouers inlig dat hulle by Oom Gert gekuier het. Hatfield is nie verniet bekend vir sy ambassades nie, want dit ook hier waar tussen die klasse deur genetwerk word. Netwerke wat ʼn leeftyd sal hou.

Spotprente en die Perdeby-koerant

“Ek vir ʼn hele paar jaar vir die Perdeby (Tukkies se studentekoerant) spotprente geteken het. Die koerant het weekliks uitgekom, en dit was altyd groot pret om Sondagaande al die nuusgebeure op kampus in te samel en om dan daaruit ʼn  gepaste spotprent te teken. In ʼn mate het dit my ook gevorm, omdat ek gedurende daardie jare saam met studentjoernaliste met verskillende standpunte moes saamwerk, en my spotprente ook daarvolgens moes aanpas. Hierdie betrokkenheid by die studentekoerant het dan ook tot gevolg gehad dat my naam verskyn in ʼn boek oor Suid-Afrikaanse Spotprenttekenaars wat uitgegee is net nadat ek afgestudeer het.”

– prof. Hannes Rautenbach, weerkundige en dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia | 1982-1985; Universiteit van Pretoria

Oom Leeu en sy welpies

“Dis die jaar 1981 en ek is ʼn eerstejaar-Tukkie en Klaradyner.  Onder die bome voor Klaradyn-koshuis het die simbool van die koshuis gepronk– Oom Leeu. Eerstejaars is welpies genoem, maar ons is as “dames” aangespreek – so ons het waardig ons formele drag gedra. Selftrots, respek, saamstaan, integriteit en empatie was deel van die waardes wat ek van die eerste dag in die koshuis ervaar het. Dit was ʼn voorreg om in later jare as HK-lid hierdie waardes aan nuwe inname welpies uit te leef, hul die brul te laat oefen en as “juffrou” ʼn oopdeurbeleid vir my welpies in te stel.  Die gedagte was dat elke welpie in die spieël ʼn uitsoek maanhaar van die diereryk moet sien, gepantser met die helm van verlossing en swaard van die gees.

Oom Leeu was die bakenpunt vir Klaradyn, maar veral in Jooltyd was die standbeeld vir strydende mans- en ander dameskoshuise ʼn teikenpunt.   Oom Leeu het dus vele kere onder manskoshuise se verfkwasse deurgeloop.  Dit was tot verontwaardiging van elke Klaradyner om Oom Leeu in reënboogkleure bespat onder die bome aan te tref – so ons het hom dieselfde dag in ere herstel, die brul ingeoefen en wagstaan-skedules opgestel om die trots en simbool van Klaradynwees te beskerm. Hierdie aksies en leeu-simbool het veel dieper as verfkwas en standbeeld gegaan, maar ʼn diep indruk gelaat van selfwaarde, standvastigheid en deursettingsvermoë.

In 2022 staan die Klaradyn-koffiebeker met die naellak “C” vir Celia steeds in die kas en pronk die feeswyn ongedrink as herinnering. En iewers in ʼn laai is ʼn koshuisnuusblad waaraan ek ʼn hand gehad het.”

– dr. Celia Booyse, bestuurder: Programontwikkeling en Gehalteversekering | 1981-1984; Universiteit van Pretoria, Klaradyn Dameskoshuis

Primaria en die hysbak

“Een van die stories waaraan ek gedink het, is ʼn storie van toe ek primaria van my koshuis by Tuks was (ek was in Madelief-koshuis). Ek het een middag van die klas afgekom en toe die hysbakke oopmaak het ek ʼn heerlike verrassing gekry. Die hysbakke daai tyd was groot en die koshuisbeddens klein. Toe die hysbak oopmaak, sien ek die eerstejaars het my hele kamer in die hysbak ingedra en die hysbak soos my kamer versier. Al my beddegoed, prente teen die mure en selfs ʼn tafeltjie met koffie en eetgoed was in die hysbak ingedra. Ek en my vriendinne het die res van die aand in die hysbak op my bed (‘in my kamer’) gekuier en soos die hysbak oopmaak het nog gaste in- en uitgeklim vir die kuier.”

– dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe | 1990-1995; Universiteit van Pretoria, Madelief Dameskoshuis

’n Studentelewe wat jou loopbaan vorm

My liefde vir klasgee het in die koshuisbloksitkamer begin. Ek onthou hoe ek die eerstejaars (ek was toe derdejaar) tydens die eksamen op die bloksitkamer van die koshuis bestuursrekeningkunde geleer het. Dit was eers net ʼn verskoning vir my om nie te leer nie en soos ek besig is om klas te gee het ek besef hoe lekker dit is en dat ek eendag wil klasgee.

Studentelewe het wel een baie spesifieke iets in my losgemaak, wat toe min wetend later deel van my loopbaan sou word, en dit is die liefde vir drama. Ek onthou hoe my koshuismaats onbeskaamd en sonder vrees op die verhoog geklim het, hoe ander self die tekste geskryf het en hoe die kreatiewe proses my fassineer het. Ek het elke toneelstuk gaan kyk en by my maats geleer. Jare later het ek die moed bymekaar geskraap om die kunste na te jaag – want dit kon my nie los nie – en nou is ek so dankbaar vir daardie vreeslose maats van my.

– Rika Nieuwoudt, departementshoof: Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe | 2009-2014; Noordwes-Universiteit (NWU-Pukke), Vergeet-my-nie Dameskoshuis.

HELP ONS BOU AAN ’N STUDENTELEWEGALERY

Foto’s van universiteitsdae is welkom. Deel jou foto’s en beskrywings van jou studentedae.